-
Ontstaan:
Klema het ontstaan vanuit die studentegemeente in Port Elizabeth wat ‘n bediening van die NG Gemeente Somerstrand was. Ons het gedurende 2003 opgemerk dat al hoe meer voormalige studente na die studentegemeente terugkeer omdat hulle nie ‘n tuiste in ander kerke kon vind nie. Ons het verder gelet dat daar bitter min voorsiening in die meeste kerke gemaak word om ons ongelowige en kerklos vriende en kennise in die kerk tuis te laat voel. Ons het besef dat daar ‘n behoefte aan ‘n kerk met ‘n eietydse manier van doen is wat op ‘n kultuurrelevante manier kerk kan wees. So ‘n kerk moes daarop gerig wees om juis mense buite die kerk te dien – in stede daarvan van om net op die kerk se lede te fokus. Na baie gebed en gesprekke met verskeie rolspelers was ons oortuig dat so ‘n kerk wel op God se hart was en dat ons geroep was om so ‘n kerk te begin. Na ‘n reeks gesprekke onderling en met die kerkraad van Somerstrand NG gemeente gedurende 2003 en 2004 is besluit dat die studentegemeente omvorm sal word om so ‘n kerk te word en dat studentegemeente voortaan meer onafhanklik op die model van ‘n wyksgemeente sal funksioneer. Terwyl hierdie gesprekke plaasgevind het, het Klema reeds begin omvorm en al hoe meer mense het by ons aangesluit.
-
Lidmaatskap:
Omdat Klema `n baie definitiewe roeping van God ontvang het om met `n gerigtheid na buite te leef, wil ons nie sommer mense deur die invul van `n vorm laat lede word nie. Ons bied van tyd tot tyd `n lede oriëntering aan waar ons, ons geloofsbelydenis, roeping, visie en kernwaardes volledig verduidelik. Tydens die lede oriëntering spel ons ook uit wat lede van Klema kan verwag en wat ons van ons lede verwag. Wanneer mense hierdie oriëntering bygewoon het en hulle kan vereenselwig met ons geloofsbelydenis, roeping, visie en missie, is hulle baie welkom om lede te word.
-
Leierskap:
Die ouderlinge is verantwoordelik om saam met die gemeente te onderskei hoe God ons lei en gee so leiding aan die gemeente. Elke bediening word dan deur ‘n bedienings bestuurder gelei. Ons beskou egter elke lidmaat as ‘n leier wat saam met die liggaam onderskei waarheen God ons lei en saam in die liggaam God se leiding daadwerklik volg.
-
Personeel:
Ons personeel bestaan tans uit ‘n predikant (Deon) wat 50% van sy tyd aan Klema wy, ‘n deeltydste admin bestuurder wat die kantoor beman (Jacomien), ‘n voltydse studente bestuurder (Charel) en ‘n voltydse grafiese ontwerper (Jaco) wat ons multimedia behartig. Die gemeentebestuurder (Wimke) is verantwoordelik vir die koördinering van die bestuur van Klema en is deeltyds as ‘vrywilliger’ betrokke.
-
Finansies:
Alle inkomste deur Klema ontvang word afsonderlik van Somerstrand se finansies bestuur. Klema se grootste uitgawes is tans ons personeel en algemene bestuursuitgawes. Tans word ongeveer 11% van ons inkomste buite die gemeente vir sending en barmhartigheidswerk aangewend en ons hoop dat hierdie persentasie al hoe groter sal word. Bydraes kan by die volgende bankrekening inbetaal word:
Bank besonderhede
Naam van rekening: NG Kerk Somerstrand
Bank: ABSA Takkode: 630 117
Rekening nommer: 9232882091
Verwysing: Maak asseblief seker dat die verwysing duidelik “Klema” sê.