Klema se missie is om volgelinge van Jesus te wees en te maak in ‘n relevante kerk ter wille van die wêreld.
Ons geloofsbelydenis is as volg:
Ons glo dat God die Skepper van hemel en aarde is.
Ons glo dat Jesus Christus self God is wat mens geword het om vir ons sonde versoening te doen, maar dat hy weer opgestaan uit die dood. Sodoende het Hy die mag van die sonde en die dood oor ons lewens verbreek.
Ons glo dat die Heilige Gees ook God is wat ons tot geloof in die werk van Christus lei en dan in ons kom woning maak.
Ons glo dat die kerk die Liggaam van Christus op aarde is. Dit sluit almal in wat Jesus Christus as Here en Verlosser bely.
Ons glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is.
(Verwerk vanuit die Appostoliese Geloofsbelydenis)
Ons visie is die volgende:
Ons luister na Christus, na mekaar en na die wêreld,
Ons groei na Christus, na mekaar en na die wêreld en
Ons dien vir Christus, vir mekaar en vir die wêreld.
Ons Kernwaardes is:
1. Ons glo dat liefdevolle verhoudinge en eenheid alle fasette van Kerkwees in Klema moet deursuur.
2. Ons glo dat volledige toewyding en aanbidding van Christus op alle terreine van die lewe, normaal is vir elke gelowige.
3. Ons glo dat elkeen van ons geroep is om `n dissipel van Jesus Christus te wees en die opdrag ontvang het om ook dissipels te maak.
4. Ons glo dat Klema moderne mense op `n relevante en eietydse wyse moet bedien.
5. Ons glo dat Klema en haar lede getroue rentmeesters moet wees van alles wat ons van God ontvang het.
6. Ons glo dat die Geesvervulde verkondiging van die Bybel in woord en daad, die vonk is wat lei tot verandering in mense se lewens.
7. Ons glo dat God in alles wat ons doen verheerlik moet word en dat alles wat ons doen daarom met uitnemendheid gedoen moet word.
8. Ons glo dat die Kerk slegs goed kan fuksioneer as elke lid van die liggaam sy of haar funksie in die liggaam vervul.
9. Ons glo dat ons geroep is om Jesus Christus aan kerklos en ongelowige mense te kommunikeer.
10. Ons glo dat elke gelowige `n spesifieke, Godgegewe bediening en funksie hier op aarde het en dat elke bediening in Klema hanteer moet word deur mense met die roeping, gawes en passie vir daardie bediening.
(Die sleutelwoorde in elke kernbeginsel kan opgesom word met die akroniem VADER VUL die Kerk met U Gees.)